Liefde (2019-02-18)

Liefde

Ek het die afgelope tyd baie aan God se Liefde en my Liefde gedink. En toe kry ons gister ‘n preek wat gaan oor Liefde en Grense

Die kern van my denke is Joh 3:16 – Want so lief het God die wêreld gehad

Dit gaan oor gelowiges nie
Dit gaan nie oor Jode nie
Dit gaan nie oor goeie mense nie
Dit gaan oor die hele wêreld
God het almal lief

En daar is geen sprake van grade van liefde nie
Dit is goddelike agapé liefde – volmaakte liefde
God het elkeen in die wêreld ten volle lief

Dit beteken dat ek ook almal ten volle lief moet hé
Want ek moet soos Christus wees
Nie diegene wat vir my lief is
Nie diegene wat ek van hou
Nie my mede-gelowiges nie
Almal

Grense

Dit bring my by die preek
Christiaan het gepraat oor God se liefde wat sonder grense is

En afgesluit met die kerk se leuse
               Die Liefde van God
               vir alle mense
               oor alle grense heen

Diegene wat ek nie lief wil hê nie

Wat van diegene wat ek nie wil liefhê nie
Die een wat my te na gekom het
Die een wat my bedrieg het
Die een wat my seergemaak het
Die een wat by my huis ingebreek het
Die reeksmoordenaar
Die pedofiel
Politieke figure soos Zuma of Malema
Historiese figure soos Adolf Hitler

Is hulle nie deel van almal nie

Ook hulle moet ek liefhê

Hoekom sukkel ek om lief te hê

Christiaan het tydens die preek gepraat oor die wat ons nie liefhet nie

Toe het ek gewonder wat hou my terug van liefde te wys teenoor ander
Ek kon drie redes identifiseer

Selfsug

Ek wil nie van myself en selfs nie eens van my goed of my tyd gee nie.
Ek moet daaraan werk om te sien waar ek liefde kan bewys
En dan stry teen die ingebore selfsug
Maar dit is moeilik

Onsekerheid

Baie keer as ek iets wil doen, is ek onseker oor of dit aanvaarbaar is om dit te doen
Sê nou maar ek gee aanstoot
Ek moet maar my onsekerheid agtertoe skuif en optree
Maar ook dit is moeilik

Vrees

Vrees – veral vrees vir verwerping kom soos ‘n groot swart wolk voor my op
Sê nou maar die persoon weier om dit te aanvaar
Of hy dink ek het bybedoellinge
of ….
of ….
Hierdie is my grootste struikelblok
Ek sukkel om by dit verby te kom
Dit is die heel moeilikste

Hoe wys ek liefde

Eers moet ek na my ingesteldheid kyk
Ek is so geneig om te veroordeel
– hy glo nie soos ek nie
– hy is nie so goeie mens nie
– dit is sy skuld dat hy in die toestand is
– hy doen slegte goed
– ek hou nie van hom nie

Ek moet leer om elkeen te aanvaar soos hy is
Dit beteken nie dat ek sy dade goedkeur nie
Maar as ek hom nie aanvaar nie, gaan ek nie by hom uitkom nie
Ek moet vir hom wys ek gee om vir hom, net soos hy is

Al is sy velkleur ‘n ander kleur as myne
en al is hy net ‘n werker, of selfs werkloos
Moet ek omgee
Moet ek hom as mens sien
Moet ek hom sien as iemand wat God so liefhet dat Hy Sy Seun gegee het

Al het hy met sy taxi voor my ingery
Of al het hy my goed gevat
Of al gebruik hy die Naam van die Here ydelik
Moet ek omgee
Moet ek hom as mens sien
Moet ek hom sien as iemand wat God so liefhet dat Hy Sy Seun gegee het

Al glo hy anders as ek
al is hy ‘n Moslem of Hindoe of selfs ateïs
al het hy iemand doodgemaak
al het hy ‘n kind gemolesteer
Moet ek omgee
Moet ek hom as mens sien
Moet ek hom sien as iemand wat God so liefhet dat Hy Sy Seun gegee het

Al het hy wat gedoen
Al is hy wie ook al
Moet ek omgee
Moet ek hom as mens sien
Moet ek hom sien as iemand wat God so liefhet dat Hy Sy Seun gegee het

Slot

               Die Liefde van God
               vir alle mense
               oor alle grense heen

Sonder verskonings

Sonder terughouding

As dit net nie so moeilik was nie

Lewer kommentaar