Vriendskap (2019-01-15)

Iets wat ek nou agter gekom het, is dat mense die heel belangrikste is
Nie geld nie
Nie mag nie

Mense!!!

Ek was nog altyd ‘n eenkant mens. Toe Ina my gekry het, het sy self later gesê dat my sosiale vermoëns ‘n nul was. Sy het geskaaf en geskuur aan my dat ek darem in beskaafde geselskap kon bestaan (net-net)

Maar sy was die een wat vriendskappe aan die gang gehou het. Sy het baie vriendinne (en vriende) gehad, want sy was ‘n opregte vriendin

Nou is sy nie meer daar om dit te doen nie
Nou moet ek dit doen en dis nie vir my maklik nie. Maar ek probeer nou by mense uitkom. Ek probeer met hulle te gesels en die vriendskappe te bou. Dit is meestal gesels en uitvra.

Ek is nie ‘n pastor persoon wat kan raadgee nie. Ek sukkel genoeg met my eie probleme. Maar ek is bereid om te luister. En ek kom agter dit is wat mense nodig het

Dus glo ek dat God my ‘n nuwe opdrag gegee:
Gaan wees daar vir mense
Luister na hulle

Wat glo ek (2018-12-05)

Ina, my vrou, is nou al drie maande in die versorgingsentrum. Ek bly nou alleen in ons huis. Ek bly besig, maar kom ook agter dat God met my besig raak.

Wat glo ek

Ek het die afgelope maand optometris toe gegaan omdat ek nie meer kan fokus as ek so twee ure op die rekenaar gewerk het. Hy het my na die oogspesialis verwys

Terwyl ek vir die afspraak by die oogspesialis gewag het, het my gedagtes gedwaal (ek dink altyd aan die ergste wat kan gebeur). Omdat ek nie meer kan fokus nie, kan ek nie meer op die rekenaar werk, of TV kyk, of lees nie. Al wat ek kan doen is dink

Die gedagte dat ek dalk blind kan word, het by my opgekom. Wat gaan ek doen as dit gebeur. Hoe gaan ek reageer. En dit het my oor my geloof laat dink

Ek het drie geloofspunte waaraan ek vashou

God is Almagtig en Vrymagtig

Almagtig beteken dat Hy enigiets kan doen

Vrymagtig beteken dat Hy kan doen net wat Hy wil, selfs al dink ons dit is verkeerd of pas nie in by ons idee van Hom nie.

Hy is soewerein en nie beperk deur enige iets nie

God is in beheer

God is altyd in beheer

As iets goeds met my gebeur, is dit onder God se beheer.
As iets slegs met my gebeur, is dit onder God se beheer.
As ek iets goeds doen, is dit onder God se beheer.
As ek iets slegs doen, is dit onder God se beheer

Hy is altyd in beheer

God is Lief vir my en laat alles ten goede werk

Ek glo absoluut dat God lief is vir my. Ek twyfel nie daaraan nie.
En ek glo dat hy alles ten goede laat werk. Dit beteken nie dat dit lekker gaan wees nie.

Dit lyk dalk nie so nie. Ek sien soms nie God se liefde nie. Partykeer kan ek glad nie insien hoe iets goed kan kom uit dit wat gebeur nie. Dit kan dalk selfs pyn en lyding teenwoordig wees.

Maar ek kyk altyd of ek dit kan raaksien

Invloed in my lewe

My vrou ly aan Parkinson ’s demensie. Oor drie jaar het sy van iemand wat die lewe kon aanpak, verander in ‘n persoon wat my meestal nie herken nie.

Dit was nie lekker om dit te beleef nie. Ek moes goed doen wat ek nie voorheen gedoen het nie. My wêreld het klein geword, want alles het om haar gedraai. Ek het my lewensmaat verloor. Ek moes haar in ‘n inrigting sit waar hulle vir haar sorg, want ek kon nie meer vir haar sorg nie. Na veertig jaar sit ek nou alleen

Kan daar iets goeds in wees?

Ja, daar was!!!

Ek kon agterkom dat ek verander is

  • ek het sagter geword
  • Ek het meer empatie met mense
  • Ek het meer geduldig geword
  • Ek het mense meer waardeer
  • Ek moes leer om hulp te aanvaar

Vir Ina het dit nie gevoel of daar iets goeds in was nie. Maar sy het steeds aan God vasgehou. Selfs toe sy my nie herken het nie, het sy nog steeds gebid.

Ek kon ook vir ander oor demensie leer.
Ek kan ander help

Deur al die agteruitgang en sukkel, moet ek sê dat ek nooit woede ervaar het nie. Daar was hartseer en jammerte vir Ina. Daar was frustrasie. Daar wás soms selfs ‘n bietjie moedeloosheid

Maar ek het geglo dat God weet wat Hy doen

Terug by die oë

Ek kon vir myself uitmaak dat as ek blind word, sal dit ook goed wees. Ek wil nie blind wees nie, maar as dit gebeur, sal dit goed wees. Want God is in beheer.

Op die ou einde was dit my oë wat droog word. Blykbaar knip jy nie jou genoeg as jy voor die rekenaar sit nie – tot 30% minder

Maar deur die hele ervaring het ek gegroei