Hierdie is ‘n lang blog. Hierdie week is
egter ‘n baie belangrike week. God het begin om iets te doen wat my lewe gaan
verander.
You Tube
Al kan ek nie goed sing nie, is ek egter
baie lief vir sang. Ek het die afgelope tyd die laaste uur of wat elke dag na
musiek op You Tube begin luister. Dit het geleidelik na meestal christelike
musiek verander.
Hierdie week het ek na lied deur Phillips, Craig and Dean, “Your Grace still Amazes me”,(YouTube) geluister. In die refrein van die lied is daar ‘n sin: “Each day I fall on my knees”. En net daar sê God vir my dat ek vanaand op my knieë moet gaan.
‘n Bietjie geskiedenis
Ek het vroeër vanjaar vertel hoe ek vir my dogter se genesing gebid het en dit nie gebeur het nie(God verloor en God gevind). Ek het my vertroue in God verloor en na ‘n paar maande het ek ‘n nuwe verhouding met God opgebou. Ek dien Hom nou omdat Hy God is. Ons verhouding is dié van God en dienaar (Baie van die goed het ek nou eers besef). Hy is God en Hy kan doen wat Hy wil. Ek is dienaar en aanvaar wat Hy ook al besluit.
Dit is hoekom ek Ina se siekte kon hanteer
het. Hy het haar laat siek word en Hy het ‘n rede daarvoor. Van my kant af het
ek gesoek na die goeie wat daaruit voortspruit, en dit dikwels ook gekry. Want
ek is net die dienaar en Hy is God.
Dit is hoekom ‘n lied soos “O Heer, my God, hoe groot is U” so tot
my gespreek het. Dit het klem gelê op Sy grootheid en Sy posisie as God. En die
afgelope maand het die lied heeltyd in my kop gedraai. Ek het ook van “Majesteit” gehou, want ook dit gaan oor
Sy heerlikheid.
Maar dit het ‘n groot verandering in ons
verhouding gebring. Voorheen was daar ‘n ook ‘n vriendskapsverhouding tussen
ons. Nou was daar ‘n verhouding van God en dienskneg. Die intimiteit was weg. Ek
het nog baie met God gepraat en Hom gehoor, maar die intieme gesprekke tussen
Hom en My was weg. Hoe kan jy ‘n intieme gesprek voer met iemand as jy Hom nie
vertrou nie. Dus het ek nie meer spesifieke tye gehad wat ek met God gepraat
het nie. As ek iets wou sê, het ek dit net vir Hom gesê. Hy was altyd by my.
Maar van spesifieke stiltetyd was daar nie meer sprake nie.
En dit is hoekom dit nodig was dat God vir
my moes sê dat ek weer op my knieë moes gaan. Dit het tot op daardie stadium
nie meer gebeur nie.
Die eerste keer
Ek het nie besef dat God besluit het dat
dit tyd is dat die verhouding reggestel moet word nie. Soos ‘n goeie dienskneg
het ek die aand op my knieë gegaan om te bid. In my gedagtes het ek my op my
knieë geplaas voor Sy troon. My eerste woorde was die woorde van Majesteit.
Majesteit,
glansryke heerlikheid
Ons wil Jesus, die Koning, hulde bewys
Majesteit, hemelse heerlikheid
Straal van Sy troon, tot waar ons woon
Ons wil Hom prys
Let op die afstand. Ek is op my knieë en
Hy sit daar bo op Sy troon. Sy heerlikheid straal af na my waar ek kniel om Hom
te dien. Ek was nog glad nie nader aan Hom nie.
I will wait for You
Die volgende aand het ek weer na video’s gekyk. Ek hou veral van “Praise and Harmony”, want hulle sing met entoesiasme. Ek hou veral van die lied “I will wait for You” (gebaseer op Ps. 130) (YouTube). In die refrein weerklink die woorde “I will wait for You” keer op keer.
Ook het ek ‘n boodskap gekry deur ‘n
prediker op You Tube dat
ons te dikwels goed doen omdat ons dink ons is oulik genoeg om dit te doen. Ons
wag nie vir God nie. Ons storm in.
Vroeër na Ina se begrafnis, het ek ‘n boodskap gekry dat daar iets nuuts vir my wag. Ek is baie opgewonde daaroor en wil uitgaan en die nuwe ding ontdek. Ek wil aan die gang kom. Ek kan maar baie voortvarend wees!
Toe ek daardie aand op my knieë gaan,
weerklink die woorde in my: “I
will wait for You”. Ek moet wag.
Ek is nog nie reg daarvoor nie. Ek moet wag tot God die pad oopmaak. Maar ek
wil nie! Ek wil dit nou doen!
Maar dan kom die boodskap weer: ek moet
wag
Vertroue
Gisteraand het ek video’s gesoek oor Wag
op God. Die eerste een wat ek kry, praat oor ses vereistes om op God te wag. En
die heel eerste een is vertroue. Die volgende een wat ek kry, gaan oor vertroue.
En die derde een gaan oor vertroue.
En ek vertrou God nie. As daar ‘n lied gesing word wat gaan oor vertroue of oor God se beloftes, bly ek stil. Ek kan nie saam sing nie, want ek vertrou God nie. En hoe kan ek dan wag as ek Hom nie vertrou nie.
Die aand het ek gaan slaap en vergeet om
te bid.
Drome
Ek het ‘n vreemde droom gehad van sulke
groot bye wat mense steek. Jy moet die angel baie vinnig uithaal, want daar
groei sulke lang swart drade van die angel af in jou are in. As jy hom gou
uittrek, kan jy nog daai swart lang goed uittrek, al is die baie pynlik. As jy
te lank wag, kry jy dit nie uit nie.
Laat in die nag
Een uur die nag het ek opgestaan om ‘n draai te loop en water te drink. Skielik onthou ek – ek het nie gebid nie. Maar voor ek iets daaraan kan doen, besef ek dat ek God nog nooit regtig vergewe het vir dit wat 18 jaar gelede gebeur het nie. Hier binne het ek nog steeds ‘n wrok teen God omdat Hy nie my gebed verhoor het nie.
Ek dien Hom, maar vertrou Hom nie. Ek vertel vir mense dat ek God dien, maar eintlik vertrou ek Hom nie. Ek bid nie vir mense nie, want God gaan dit buitendien nie doen nie. Ek kan nie op Sy beloftes staatmaak nie, want Hy voer hulle nie uit nie. So gaan die lys aan en aan.
En ek het sulke goeie argumente gehad oor hoekom my verhouding met God reg was. Ek dien Hom nog voluit. Maar net omdat Hy God is. Ek het myself al die jare oortuig dat dit reg was. En die wrok het ek diep weggesteek, daar waar ek hom nie kan sien nie. Ek was nie eens bewus van die wrok nie. Al die jaar was ek ‘n goeie christen, met ‘n wrok teen my God.
Baie jare terug het ek ‘n boek gelees van
Hannah Hurnard, “Hind’s feet on High Places”. Dit is ‘n allegorie op die trant van Pilgrim’s
Progress. In die geval is dit ‘n
meisie, Much Afraid, wat op
reis gaan agter die Herder aan. Op een plek kom sy in ‘n dal met ‘n altaar. Sy
gaan lê op die altaar en die priester druk sy hand in haar bors in en trek ‘n
groeisel uit haar hart. Die groeisel, menslike begeertes, het deur haar hele
liggaam gegroei. Dit is baie pynlik, maar hy trek hom uiteindelik uit, wortel
en tak.
So het die verwyt teen God deur my hele
wese gegroei en my lewe oorgeneem. Ek het besef die droom het terug verwys na
die verhaal van Much Afraid.
Ek sal op die altaar moet gaan lê om die ding te laat uithaal. Self kan ek dit
nie doen nie. Ek dink ook nie dit sal in een dag kan gebeur nie. Ek is baie
hardkoppig. Much Afraid het
gevra dat sy vasgebind word, sodat sy nie stry as die groeisel uitgehaal word
nie. Ek sal dieselfde moet doen.
‘n Nuwe verhouding
God het besluit dat dit tyd is om die
verhouding tussen ons twee te herstel. Daar moet weer intimiteit wees. Ek moet
weer leer vertrou. Ek moet opnuut leer om Hom lief te kry. Soos altyd, is dit
nie ek wat dit begin nie. Dit is God. Ek moet gehoorsaam wees.
Dit bring my terug by die ou waarheid. God
het my so lief dat hy my aanvaar met al my gebreke, groeisels, vooroordele en
verkeerde konsepsies. Maar hy het my so lief dat hy my nie toelaat om voort te
leef met my gebreke, groeisels, vooroordele en verkeerde konsepsies. Sy Gees
werk in my om my meer soos Jesus te maak, al is die pad ook hoe lank.
Verdere insigte
Nadat ek hierdie geskryf het, het ek besef
dat ek nie bewus was van al my foute, verwyte en wrokke nie. Dit het my na Mat
7:3 gevat (Waarom sien jy die splinter
raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op
nie?). Ek was glad nie bewus van die balk in my eie oog. Die gees moes my
oë oopmaak om dit te sien.
Ek is ook teruggeneem na die belofte wat
God my gegee het oor die nuwe ding wat gaan gebeur (Jes. 43:19 Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te
gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in
die droë wêreld riviere ontspring.). Hy is besig om in droë hart riviere te
laat ontspring. Die nuwe ding het begin!